Bio – Afrikaans

brumilda.com
brumilda.com
brumilda.com

Brümilda van Rensburg

Brümilda van Rensburg is 'n bekroonde TV, film en teateraktrise; bekend as “Louwna” van Egoli. Sy het meer as 80 plaaslike en internasionale produksies op haar kerfstok. Sy is al aangewys as Gewildste Aktrise in SA. Sy lei voornemende akteurs op by haar eie drama-akademie. Sy is ook ‘n professionele seremoniemeester/gasspreker.

Brümilda van Rensburg is 'n bekroonde TV-, film- en teateraktrise. Sy het in 1978 cum laude gegradueer met 'n Honneurs in Drama aan die Universiteit van Pretoria. Veral haar rol as Louwna in die gewilde TV-reeks Egoli, waarin sy vir 18-jaar gespeel het, is van haar bekendste en het haar ‘n huishoudelike naam regoor Afrika gemaak. Vandag is sy ook bekend as Jana du Preez in Binnelanders. Sy het onlangs in twee internasionale films gespeel, naamlik: “The Power of Three” en “Leading Lady”.

Brümilda was al tydskrifvoorbladgesig van meer as 50 tydskrifte; en daar is selfs ‘n roos na haar vernoem. Brümilda was onlangs die mede-outeur van haar eie biografie, Brümilda Vyftig, Vurig en Fabulous, wat in 2012 uitgegee is.

In die periferie van haar professionele beroep as aktrise bied sy opleiding en geleenthede aan voornemende rolprent- TV- en teaterkunstenaars. ‘n Paar bekende studente van haar akademie sluit in: aanbiedster en aktrise Leandie du Randt (“Mieke” in Getroud met Rugby), Masego Sehoole (“Pulani” in 7de Laan), Donnalee Roberts (“Annelie” in 7de Laan) en Juan-Pierre Volschenk (Getroud met Rugby). Afgesien van Brümilda se voor-die-kamera loopbaan, het sy al haar eie radio-geselsprogram, Skeppunt, vir drie jaar aangebied. Brümlda was ook al mede-regisseur van TV-dokumentêr insetsels. Sy is ook ‘n professionele stemkunstenaar, beoordelaar en liefdadigheidsambassadeur. Aan haar loopbaan is daar geen einde in sig nie.

Brümilda het al talle gesogte toekennings ingeryg, onder andere die:

  • ATKV Mediaveertjie beste Aktrise in 'n Drama - vir Hartland
  • Rapport / City Press Prestige Vroue-toekenning as een van Suid-Afrika se top kunstenaars
  • People's Choice-toekenning vir Gewildste Aktrise in Suid-Afrika
  • Huisgenoot / YOU Stylvolste Vrou
  • Die gesogte Fleur du Cap-toekenning

Wie is Brümilda van Rensburg?

Brümilda van Rensburg is een van Suid-Afrika se bekendste aktrises. Sy is op 30 Oktober 1956 in Philippolis, Vrystaat, Suid-Afrika, gebore. Sy het in Pretoria grootgeword. Die meeste van ons ken haar veral as "Louwna" van die gewilde TV-reeks Egoli: Plek van Goud, waarin sy vir 18-jaar-lank gespeel het. Brümilda het al voor Egoli beroemdheid verwerf deur haar vertolking van “Adele” in die TV-reeks Wolwedans in die Skemer, sowel as vir haar uitbeelding van die karakter “Alicia” in Ballade vir 'n Enkeling (reeks 2). Brümilda vertolk tans “Jana du Preez” in die Afrikaanse TV-sepie Binnelanders op KykNet. Sy was onlangs ook te sien in die TV-reekse “High Rollers” en Hartland. Sy het vir haar toneelspel in Hartland die gesogte ATKV-mediaveertjie toekenning vir Beste Aktrise in 'n Drama ontvang.

Brümilda het byna 40 jaar professionele ondervinding in die TV-, film-en teaterbedryf. 'n Paar van haar bekendste teatervertonings oor die jare sluit in: “Send for Dolly” (as Dolly), Die Trem se naam: Begeerte (“A Streetcar named Desire”), Exit the King (as Marie); waarvoor sy ‘n Vita-toekenning ingepalm het, Antigone (as Antigone); waarvoor sy die gesogte Darlo-toekenning ontvang het, en Siener in die Suburbs. Sy het ‘n Fleur du Cap-toekenning verower vir haar vertolking van “Cassandra” in die Griekse Tragedie “The Orestian Trilogy”. Brümilda het Shakespeare ‘n paar keer al baas geraak: sy het “Portia” in Die verkoopsman van Venisië vertolk en sy het die hoof vroulike rol “Gertrude” in Hamlet gespeel. Sy het Om Goodbye te Sê in Londen opgevoer en as mede-regisseur opgetree; hulle het hiervoor staande toejuigings van die gehoor af ontvang.

´n Paar gewilde rolprente waarin Brümilda gespeel het, sluit in: Musiek vir the Agtergrond, Nag van Vrees, Egoli the Movie, Agter Elke Man, “Brutal Glory”, “The Power of Three” ('n internasionale film wat in Londen geskiet is), en Leading Lady (saam met Bok van Blerk en internasionale filmsterre Gil Bellows en Katie McGrath). Paw Paw vir my Darling is een van haar nuutste films.

Brümilda se vurige passie vir die uitvoerende kunste kom al van kleins af. Op die vraag: wanneer sy besluit het om aktrise te word- antwoord sy ewe tong-in-die-kies: “By geboorte toe almal vir my hande geklap het en bly was oor my aankoms.” Afgesien van haar suksevolle loopbaan vandag, het sy van die begin af hard gewerk om haar doel te bereik: op skool was sy die eerste leerling van Afrikaanse Hoër Meisieskool om erekleure vir toneelspel te ontvang. Sy het in 1978 haar Honneurs in BA Drama aan die Universiteit van Pretoria met lof behaal. Die Universiteit het haar op twee geleenthede met die gesogte Ludwig Binge-toekenning vereer, sowel as met die Golden Key Internationale-toekenning vir haar prestasies.

Brümilda is ‘n passievolle dramalektor en bied fantastiese opleiding by haar drama-akademie: Brumilda se Drama-akademie en Agentskap. Hier fasiliteer sy opleiding met top akteurs, regisseurs en kunstenaars in die industrie. Brumilda het self al ‘n meesterklas in drama by die Oprah Winfrey Meisieskool in Suid-Afrika aangebied.